Ouers raak gewoonlik eerste bekommerd oor hul kind se taal- of spraakontwikkeling. Jou kind se uitspraak mag dalk onduidelik wees of sy mag dalk korter sinne gebruik as ander kinders van haar ouderdom. In so ‘n geval kan ouers die pediater kontak en ‘n mediese ondersoek skeduleer. ‘n Gesprek met u kind se dagsorg-moeder of kleuterskool onderwyser/es is gewoonlik ook waardevol.
U kan ook die volgende mylpale as breë riglyn in gedagte hou:
Eenjariges verstaan gewoonlik ‘n hele aantal woorde en begin ‘n paar woorde gebruik.
Twee-jariges begin woorde kombineer in kort twee- en driewoord frases.
Drie- en vierjariges begin ‘n gesprek voer, vrae vra en beantwoord en instruksies uitvoer.
Na die ouderdom van 5 begin sinne al hoe langer en komplekser raak. Kinders begin woorde soos “wanneer” en “terwyl” inspan om twee gedagtes aanmekaar te koppel al is die woordorde nie altyd korrek nie.
Vier-jariges se spraak is verstaanbaar vir mense buite die familie- kring al word
moeiliker klanke soos /s/ en /r/ nog soms foutief uitgespraak.
Tussen die ouderdomme van 5 en 7 begin kinders alle klanke korrek uitspreek.